Rassisme is nie ‘n wit probleem nie

Max du Preez skryf onlangs – na aanleiding van die betogings in Amerika ná die dood van George Floyd deur die toedoen van ’n wit polisieman – dat rassisme ’n “wit probleem” is. Met dié benadering gooi hy – en ander wat soos hy argumenteer – ’n laken oor al wat wit mens is en taak hulle met die verantwoordelikheid om ’n nierassistiese samelewing te bou en te onderhou.
Dit op sigself is by nadenke ’n ietwat rassistiese ingesteldheid, indien nie blatant (hoewel onbedoeld) rassisties nie. Daarom dink ek hy is verkeerd, rassisme is nie ’n “wit probleem” nie.
Daar was weliswaar ’n tyd toe ’n spesifieke stelsel in Suid-Afrika, maar ook in ander wêrelddele, die verskynsel van rassisme gevoed en in stand gehou het. Toe was dit dalk oënskynlik ’n wit probleem, maar ek onthou hoe iemand een aand my pa op Kuruman by ’n braaipartytjie in die vroeë 1980’s gedonner het om twee redes: Omdat hy ’n rassistiese uitlating op die partytjie veroordeel het, en omdat hy ’n landdros op Mothibi stad in die ou Bophuthatswana was en daarom ongetwyfeld ’n m**dn****r. Hoe dan anders, hy het dan ’n swart sekretaresse, het die aanrander gejil.
Ek onthou dit nog goed, ten spyte daarvan dat ek baie jonk was. ’n Hele paar seuns het immers dieselfde taal gebruik wanneer hulle my by die skool wou boelie oor politiek. Die seuns het uitgevind dat ons soms staatsamptenare en politici van Bophuthatswana by die huis onthaal het. Boonop was ek soos my pa uitgesproke in ons kritiek teen apartheid. As dit van my pa afgehang het, het 1994 al in 1984 gebeur. Maar hy was nie die enigste nie, daar was baie ander mense soos hy. Talle van hulle is selfs in hegtenis geneem en gemartel oor dit wat hulle geglo het. Ons land se geskiedenis is besaai met sulke name, waarvan Max du Preez ook een is. Hy was ’n held in die stryd teen apartheid, dit staan vir altyd so opgeteken. Soos baie ander wit mense was. Dit alleen is al genoeg aanduiding dat rassisme nie ’n “wit probleem” is nie.
Die ongeldigheid hiervan strek verder. Die struggle wat in 1994 tot ’n nuwe bedeling gelei het, het deels (’n baie belangrike deels) ook sy beslag gekry danksy die rol wat wit mense soos my pa en Du Preez gespeel het. As gevolg van mense soos hulle het die meerderheid wit mense in 1992 oortuigend ja gesê dat apartheid nie meer ’n bestaansreg het nie. Hulle kon dit selfs regkry om mense wat minder oortuig was hiervan saam te sleep. Dit was nie die einde van rassisme nie, maar teen dié tyd moes dit al duidelik wees dat nie alle wit mense rassiste is nie. Dit beteken dat so vroeg as 1992 ’n aanklag soos die van Du Preez ’n growwe veralgemening was.
Met verloop van tyd het al hoe meer wit mense ingekoop in die nuwe Suid-Afrika, en hoewel daar nog steeds wit mense is wat rassisties is, is verreweg die meeste wit mense wat ek ken glad nie. Hiermee maak ek nie aanspraak dat my belewenis die enigste geldige een is nie, maar dis een van baie. Vra jouself maar af hoeveel mense ken jy wat jy as rassiste sal afmaak, hoeveel mense ken jy wat kru geweld teen enige mens, laat staan nog ’n swart mens, sal goedkeur? My gevoel is dat daar net ’n handvol is, wat die ongeldigheid van Du Preez se standpunt verder onderstreep.
In die hedendaagse politiek kry ons ook te doen met mense soos Julius Malema, sy lakeie Mbuyiseni Ndlozi, Floyd Shivambu en Godrich Gardee, wat blatant rassisties is. Selfs Steve Hofmeyr sal diep moet delf om naby die drie here te kom. Voeg daarby die naam van Andile Mngxitama van Black First Land First (BLF) en die verskynsel van Black Twitter, en jy behoort eintlik te besef Du Preez gaan dalk dié slag te ver.
Om boonop ’n voorval in Amerika as ’n dwangbaadjie vir wit mense in Suid-Afrika aan te trek, is onbillik. Die demografiese samestelling van Amerika en die ingesteldheid van hul polisiemag, wat ’n geskiedenis van wreedheid het, maak die baadjie een wat ons nie hoef aan te trek nie. Dit is lank reeds bekend dat die Amerikaanse polisie ’n diepgesetelde probleem het wat verder as rassisme strek. Dit word onderstreep deur die gegewe dat polisiegewelddadigheid oral ’n groot kopseer is, van Hongkong tot Oostenryk en oor Afrika heen. Justus Ijeoma, ’n menseregteaktivis in Nigerië het in 2018 al gesê: “Police brutality is as common as water.”
Hier is dus iets anders as naakte rassisme aanwesig. Kom ek illustreer dit met die volgende punt. Volgens statistieke maak die Amerikaanse polisie sowat 1 000 mense per jaar dood uit ’n bevolking van 328 miljoen. In Suid-Afrika, waar 11 swart mense tydens die inperking deur die polisie doodgemaak is, sterf 500 mense uit ’n bevolking van 59 miljoen jaarliks weens die toedoen van die polisie. Pro rata maak die Suid-Afrikaanse polisie dus vyf keer meer mense dood as die Amerikaanse polisie. Die dilemma is net dat dit nie as rassisme geklassifiseer kan word nie, omdat swart polisiemanne en swart slagoffers meestal hierby betrokke is.
Die punt is, ons moet versigtig wees om kwessies op die oog af te klassifiseer. Ons sit nie hier met twee verskillende kwessies nie. As jy die velkleur uithaal, is dit dieselfde probleem wêreldwyd: wrede polisiegeweld. En dit is nie ’n wit probleem nie.
Die boodskap dat alle wit mense verantwoordelikheid moet aanvaar, of die skuldlas van rassisme moet dra, is een wat die onliberales ten alle koste op ons wil afdwing, skryf Douglas Murray in sy boek The Madness of Crowds: Gender, Race and Identity. Volgens Murray, en ek steun dele van sy uitgangspunt, het die val van ideologieë aan die einde van die 20ste eeu ’n soort bestaansvakuum veroorsaak.
Tegelykertyd het die einde van die vorige eeu ook geboorte gegee aan ’n hele reeks kritiese kulturele teorieë wat gestalte gegee het aan gendernavorsing, rassenavorsing en ’n rits ander identiteitskwessies. Hoogs opgeleide mense klou nou aan ’n nuwe godsdiens in die gedaante van maatskaplike geregtigheid, identiteit en interseksionaliteit. (Laasgenoemde is die teorie dat daar gekonnekteerde maatskaplike kategorieë soos ras, klas en gender bestaan wat oorvleuelende stelsels van diskriminasie daarstel.)
Die ironie, volgens Murray, is dat die nuwe teorieë ontstaan het op die presiese oomblik in die mens se bestaan dat rassisme, seksisme en homofobie verdamp het. En skielik, nadat ons almal gehoop het rassisme het nou uitgesterf, word alles weer aan ras gekoppel. Dit het so onrusbarend maklik gebeur, skryf Murray.
Hy noem dit die “Sint George in aftrede-sindroom”. Nadat hy die draak verslaan het, soek hy die wêreld deur na kleiner drake om af te maai – tot op die punt waar hy sy swaard in die lug rondswaai en hom verbeel dat hy drake doodmaak.
Ek wil nie hiermee voorgee dat rassisme nie ’n ernstige probleem is nie. Die feit dat Derek Chauvin sy knie vir agt minute en 46 sekondes op Floyd se nek gehou het, selfs nadat Floyd sy bewussyn verloor het, getuig hiervan. Die feit dat Vicki Momberg in 2016 onbeheersd rassisties uitgebars het teenoor die polisie getuig hiervan. Daar is duisende, nee, miljoene redes om te aanvaar dat rassisme nog steeds ’n diepliggende probleem is, een waarteen ons lewenslank moet bly veg ter wille van ons elkeen se behoud, sonder om kleinlik en gek hieroor te raak.
Jy gaan my en miljoene ander wit mense nie met ’n skuldgevoel opkommandeer om jou draak dood te maak nie. Daarom lê die belangrikste rede waarom ek dink Max du Preez is verkeerd by myself en in elkeen anders wat soos ek voel. Ek is wit. Ek is Afrikaans. Ek is nie, was nie, en sal nooit ’n rassis wees nie. My pa, wat op baie ander vlakke onvolmaak was, het dit vir my geleer. Rassisme is nie ’n wit probleem nie, het hy gesê, dis ’n rassis se probleem.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *